Wêreldvleilanddag se tema vir 2023 is “Dit is tyd, herstel vleilande” In die SA Nasionale Biodiversiteit Evaluasie Verslag wat in 2018 bekend gemaak is word daar melding gemaak dat daar toenemende druk op riviere en vleilande is en dat 67% van ons riviere en vleilande in n swak toestand is en dat minder as 5% van SA se oppervlak vleilande is waarvan minder as 10% veenlande is. In ons program van 6 Februarie gesels ons hieroor met Dr Althea Grundling, Navorsing Bestuurder vir die Water Program by die LNR Natuurlike Hulpbronne en Ingenieurswese. Sy vertel ons ook meer van die projekte waarby hulle betrokke is.
Johan Moolman, Vise-Hoof by Boland Landbouskool in die Paarl verskaf inligting oor hoe hul Akwaponika projek in hul kurikulum inpas. Hy verduidelik hoe hierdie eko-sisteem werk en sê dat die leerders aktief betrokke is. Die koshuis word byvoorbeeld voorsien van groentes soos tamaties, pampoene en blaarslaai.
Annemarie Bremner van Kleinskuur Aquaponics verduidelik hoe die drie komponente in akwaponika werk, die visse voorsien ammoniak-ryke uitskeiding, bakterië omskep ammoniak na nitrite en dan na nitrate en die plante neem die nitrate op as voeding en suiwer so die water vir die visse.
Dr Josef van Wyngaard gesels oor die rol van oesreste en die voordele daarvan. Maar daar is ook n paar slaggate wat vermy moet word.