Dit is geen geheim dat die platteland en die gemeenskappe in die platteland wesenlike uitdagings het nie. Vervalle infrastruktuur, munisipale dienslewering, hoë werkloosheid en ʼn gebrekkige sosiale vangnet is maar enkele voorbeelde van krisisse wat gemeenskappe in die platteland moet oorkom. Nogtans is die platteland ʼn kernrolspeler in die groter Suid-Afrika, veral wanneer die rol wat die landbousektor speel in ag geneem word.
Dit is vanweë dié rede dat die Senwes Groep vanjaar opnuut sy fokus op die platteland, en die gemeenskappe wat daar funksioneer, gerig het. As ʼn besigheid wat ʼn diep verbintenis met die platteland het, besef Senwes dat die verhouding tussen landbou en die Suid-Afrikaanse platteland in simbiose met mekaar funksioneer.
Op die plaaspad-inisiatief
Die plaaspad is die plek waar Senwes en die produsent mekaar ontmoet. As ʼn besigheid, waarvan die kerndoel is om produsente in staat te stel om suksesvol te wees, wil Senwes deurlopend die produsent daar op die plaaspad ontmoet.
Die “Op die plaaspad”-inisiatief bestaan uit vier pilare wat elk bydra om ʼn verskil in die platteland te maak:
Besigheidsoplossings
Ons verbind ons tot die voorsiening van innoverende oplossings wat plaaslike uitdagings direk aanspreek. Van tegnologiegedrewe vooruitgang tot pasgemaakte besigheidstrategieë, fokus ons daarop om produsente te bemagtig en hul ekonomiese groei te bevorder.
Gemeenskap
Ons toewyding tot gemeenskapsontwikkeling behels aktiewe betrokkenheid by plaaslike inisiatiewe. Vanjaar gaan Senwes vir die eerste keer sowat R1,8 miljoen deur sy AgriRewards+ program aan boereverenigings uitbetaal om sodoende hulle gemeenskapsinisiatiewe te befonds.
Toekomstige gemeenskap:
Deur aktief deel te neem aan inisiatiewe rondom gemeenskapsontwikkeling, verklaar Senwes sy verbintenis tot maatskaplike verantwoordelikheid. Hierdie programme word gedryf deur die Thobo Trust wat onder meer volhoubare voedselsekerheid, vroeë kinderontwikkeling en sportontwikkeling deur middel van die Senwes Spinners uitrol.
Hulpverlening:
Te midde van omgewingsuitdagings soos droogtes, vure, en ander landbouverwante teëspoed, is Senwes toegewyd tot die vestiging van ʼn landbouhulp-kernpilaar. Hierdie inisiatief spreek die unieke uitdagings aan waarmee plaaslike boere en gemeenskappe, wat van landbou afhanklik is, te kampe het. Nog ʼn voorbeeld hiervan is Senwes se deurlopende padskraapprojek.
Oplossings vir die platteland-konferensie
As ʼn besigheid wat deel wil wees van die oplossings vir die platteland het Senwes vanjaar as hoofborg betrokke geraak by Landbouweekblad se “Oplossings vir die Suid-Afrikaanse platteland”-konferensie. Tydens hierdie konferensie het verskeie rolspelers wat regoor Suid-Afrika oplossings binne hulle eie gemeenskap bedink en uitvoer, hul aksieplanne gedeel. Hierdie inisiatief het ten doel om as katalisator te dien om die Suid-Afrikaanse platteland te laat herleef – deur aktiewe deelname van die burgerlike samelewing en besighede wat hier funksioneer.
Nasie in Gesprek
Die platteland het suksesvolle landbouers nodig om volhoubaar en lewensvatbaar te wees. Senwes is al vir die afgelope 12 jaar ʼn medeborg en organiseerder van die bekende gespreksreeks wat jaarliks by Nampo Oesdag aangebied word. Die doel van Nasie in Gesprek is om kwessies aan te spreek wat binne die sektor heers om sodoende produsente en ander rolspelers in te lig en om kennis te deel. Dit dra by tot ʼn gesonde aktuele diskoers in landbou wat tot voordeel van die hele sektor en die platteland is waarbinne die sektor grotendeels funksioneer.
Die gemeenskappe wat in en rondom die platteland funksioneer, het ʼn robuuste landbousektor nodig om te kan floreer – net soos wat die landbousektor afhanklik is van ʼn gesonde platteland. As ʼn besigheid wat deeglik bewus is van die noodsaaklikheid hiervan, sal Senwes aanhou om sy fokus en inisiatiewe só te rig om hier ʼn verskil te maak.