Die beste raad wat die Noord-Wes Jongboer van die jaar 2022 van sy pa gekry het is, dat n mens nie oor alles beheer het nie, maar dat jy dit waaroor jy wel beheer het, goed moet bestuur. In ons program van 25 Oktober gesels ons met Herman du Preez van die Frangipani boerdery op die plaas Gruisfontein naby Lichtenburg. Hy het hul hoenderboerdery sonder ervaring oorgeneem, en vandag spog hy met n suksesvolle hoenderboerdery, boer hy kommersieël met Bonsmaras, en verbou hy mielies in n monokultuurstelsel. Hy volg n presisiebenadering en gesels oor die waarde van tegnologie.
Karel Chalmers, lid van die Au Aubidus Brahman Groep gesels oor hul samewerking en as Afslaer by Vleissentraal gesels hy oor biosekuriteit. Daar vind binnekort n belangrike veiling plaas, Karel verskaf al die inligting.
Duvan Papenfus, Kliënte en Diensbestuurder by Agri Alert praat oor hoe die proses van GPS-posisionering werk en hoe hul stelsel veediefstal hok slaan.
Hannes Swanepoel is n Simbra en Simmentaler stoetboer naby Senekal. Hy gesels oor die basiese beginsels van n veeboerdery. Hy sê dat jy melk kan produseer sonder vleis, maar dat jy nie vleis kan produseer sonder melk nie.