Inteling oor baie generasies verminder geleidelik die aantal voorouers wat in die populasie verteenwoordig word. Dit veroorsaak dus dat die variasie verminder, kosbare gene verlore gaan en nadelige gene vasgelê word. Genetiese vordering word dus hierdeur beperk en die seleksiedoelwit verander na oorlewing ipv verbetering van ekonomiese belangrike eienskappe wat belangrik is vir wins in die boerdery. In ons program van 14 Februarie gesels ons hieroor met Suretha Francis, Spesialis Adviseur by SA Stamboek. Sy verduidelik hoe inteling bereken word en wat die nadele van inteling is in n kudde.
Pieter Coetzee, Verkoopsverteenwoordiger by Telwiedre Voere gesels oor die aankoop van bulle, waarop jy moet let soos byvoorbeeld kondisie en verskaf ook inligting oor die voeding van jongbulle. Die Hoogland Studiegroep hou binnekort weer hul jaarlikse Jongbuldag. Pieter gee ook vir ons inligting oor hierdie dag.
Frank Hinze van Minamoo Dexters naby Howick praat oor hul invitro projek wat gedoen is so paar jaar gelede, hoe die projek verloop het en die sukses wat behaal is. Hy gesels ook oor die voordele van KI en gee goeie raad aan jong telers wat met Dexters wil begin boer.
Steyn Pretorius, Tegniese Bestuurder Herkouers by Kemin verskaf inligting oor hittestres in melkkuddes en watter impak voeding het op die dier se vermoë om hittestres te verlig.